top of page

Brief aan my Ouma

Ek probeer oor jou skryf maar ek vind nie die regte woorde nie. Ek probeer oor jou verf maar ek vind nie die regte kleure nie.

'n Vrou van statuur, 'n vrou vir alle tye, Aletta Fransina Nel.

Ouma Tjops soos sy gedoop is deur kinders en klein kinders.

'n Kombinasie van liefde, omgee en lag. Oorsien ons foute.

Jou reuk is soos 'n tuiskoms. Jou glimlag is my doepa.

Die reuk van gebraaide wors en vars gemaakde mieliepap hang vars in my geheue, daar in die woonstelletjie in Roodepoort. Naweke daar deur gebring, saam ouma gestap, gesing, gesels, gelag, net gewees, by my Oumie.

Sy het my soveel geleer deur die jare en tot vandag toe gee sy raad, altyd met 'n bietjie humor by. Jy het alles beter gemaak, beter gesoen, beter gedruk en beter gepraat.

As ek hoor jy kom kuier vir 'n week tydens skoolvakansie, het my gesig opgehelder, dis tog net so lekker om by ouma te wees. Sommige aande in Benoni selfs saam op 'n enkelbedjie geslaap, hoe lekker, hoe stywer ek haar kon vashou, hoe beter.

5uur saans is dit haar "brandy en coke" tyd, heeldag daarvoor gewag en Man, smaak hy lekker! Altyd 'n Lady ongeag. Haartjies gekrul, lippies rooi, pereltjies om die nek, dink ek was soms bietjie rof vir haar, rebel, teenoorgestelde van wat sy preek vir my.

Oumie, jy besit so groot deel van my hart, ek is so dankbaar dat Jesus jou nog vir ons leen,al as dit nie die manier soos wat ons nog graag sou wou he nie. Wat ek nie sal gee om nog een keer saam in die sitkamer te sit, te luister na jou stories, saam 'n glasie te klink, jy regop kan staan sodat ek beide van my arms om jou kan vou en jou DRUK.

Dankie my ouma Tjops vir wat jy vir my beteken die afgelope 31 jaar. So klein en broos, tog nog net so vol grappies en liefde. Nou deel ons maar 'n bakkie jogurt en gesels oor die ou dae in Groot Marico, daar waar ouma se hart nou al hoe meer heen trek. Jy is werklik 'n engel op aarde ouma.

Almal kan daarvan getuig.

Lief jou meer as die maan en sterre saam.

Xx

bottom of page